BOODSKAPPE

Enige boodskappe kan julle gerus hier skryf.

Liewe Christo en Zanel,

Baie geluk met julle troue. Dit voel altyd so vreemd om te sê geluk met so iets. Dit voel amper asof dit nou iets is wat jy in 'n pep stores "lucky packet" kon gewen het. Ons is so jammer dat ons nie die dag saam met julle kan ervaar nie.

Ons bid dat die Here julle sal seën en julle lewe saam voorspoedig en gelukkig sal maak. Hou Hom in die middel van julle lewe en geen probleem sal te groot wees om te oorkom nie. Geniet elke oomblik van vreugdevolle samesyn met mekaar.

Daar is 'n gesegde in die engelse taal wat sê: "You can be right or you can be rich". Wat dit op neerkom is dat 'n mens soveel van jou tyd kan bestee om te probeer bewys dat jou siening en idees reg is, dat jy vergeet of nalaat om te fokus op die geleenthede wat daar is om dinge te verbeter.

In die huwelik wil ek sê: "Jy kan reg wees of jy kan eensaam wees". 'n Mens voel soms dat jou metgesel verkeerd gehandel het, en spandeer dan soveel van jou energie daarop om te "bewys" dat jy te na gekom is, dat jy vergeet om die Here te raadpleeg. Fokus op en werk voortdurend aan die liefde in julle verhouding met God en met mekaar.

Daar sal dae kom wat minder aangenaam sal wees en wat julle liefde vir mekaar sal toets. Moet in daardie tye nie vergeet dat die Here daar is om jou hart teenoor uit te stort nie. Strewe daarna om lief te bly vir mekaar, eerder as om reg te wees. Dit is die herinneringe aan vreugdevolle dae wat jou die dryfkrag gee om deur die minder aangename dae te werk.

'n Paar wyshede:
Wees altyd openlik met mekaar; moenie oordeel nie.
Glo altyd dat die ander persoon sy/haar bes gelewer het met dit wat hy/sy beskikbaar gehad het op daardie tydstip.
Waarheid maak seer, sere kan genees. Verdraaide waarheid laat sweer; swere kan vernietig.
Geskiedenis herhaal homself - so ook vreugde en verdriet - koester julle vreugdes; spreek die dinge aan wat die lewe suur kan maak.
Dit wat jy uitkry is 'n resultaat van wat jy insit; nooit gelyk daaraan nie.
Maak nie saak hoe goed of hoe sleg omstandighede is nie - dit sal verander.
Doen soveel as moontlik dinge saam; kweek van goeie herinneringe het ten minste twee siele nodig.
Maak tyd om te lag, die ander emosies sien na hulle self om.


Ons hoop dat die dag 'n heerlike ervaring sal wees en dat dit die begin van 'n vreugdevolle lewe saam sal wees.

Geniet julle wittebrood, wees laf en verspot, wees lief vir mekaar.

Baie liefde groete vanuit 'n ysige koue Beaumont. Die maksimum vir vandag sal glo in die orde van -16 wees en môre sal dit glo -27 wees - ook die maksimum.
Posted by Grote, Maryna en twee skoppende kabouters. on December 11, 2009
Wat 'n wonderlike dag was dit nie! Net soos ek vir Jesus gevra het - spesifiek! Die wind kon maar waai, laat die sand tog asb. net in die woestyn bly. Dankie Jesus!
Ek het ook net weer besef, die mens bly onvolmaak, daarom dat die groenmannetjies hulle koppe oral uitgesteek het.. natuurlik met hulle stokkies byderhand om dit in die wiel se speke te probeer druk. Gelukkig was daar 'n Rhoda wat net vir hulle gesê: Aikôna!! Dankie Rhoda dat jy meer gegee en gedoen het as wat jy voor betaal is. Sy's aan te beveel - 200%!
Dit was verskriklik lekker om meeste van die familie en vriende so bymekaar te hê. Die wat nie daar was nie..... sorry, julle het 'n ongelooflike dag gemis.
Lief vir julle
Posted by Ma Ronèlle on January 08, 2010
Ja nee, daai groenmannetjies was omtrent besig. Maar met 'n engel soos Rhoda aan ons kant het ek glad nie my bekommer nie.
Dit was 'n besondersedag. Ek wil sommer dankie vir elke persoon se wat dit bygewoon het. Ons weet mos dit kos nie meer honderd rand vir die ryery nie. En vir almal se geskenke en kaartjies en sommer alles. BAIE BAIE DANKIE.
Posted by Zanèl on January 08, 2010
Dear Christo and Zanel,

I cannot wish a better and more perfect couple any more happiness and joy out of life than I wish the two of you. You are perfect, and you have what it takes to go the distance together. It was never a task to help you, it was an absolute pleasure and I enjoyed every minute of helping you make this day so special and memorable - even through all the dramas!

I wish you all the happiness in the world.
Posted by Rhoda on January 15, 2010
Add A New Comment